My pen skuif oor die papier, ‘n stadige dans van letters wat eens so vinnig was. Nou verg elke streep, elke krul ‘n oomblik se oorweging. Ek vra myself af: Wanneer laas het ek my naam geskryf?
Ouer persone lê Solidariteit Helpende Hand na aan die hart en ons beskou dit as ons roeping om seniors holisties te ontwikkel en ondersteun. Een van Helpende Hand se projekte is die Seniors in Aksie-projek wat bestaan uit verskillende bewegings. Die stigter van die Mind Moves Instituut, dr. Melodie de Jager, het al die bewegings nagevors en ‘n weldeurdagte program saamgestel om bejaardes te help ontwikkel en om hulle te ondersteun. Hierdie eenvoudige bewegings maak die brein helder en kalm, bring positiewe emosies mee en help selfs vir flikker-bewegings.
Gedurende die aanbied van die projek vra ons Bloemfontein-tak se voorsitter, Tammy Morey, vir die ouer persone: “Wanneer laas het jy jou eie naam geskryf?” Baie van hulle dui aan dat hulle nie meer kan onthou hoe om hulle name te skryf nie. Daar is ander seniors wat noem dat hulle sekere gawes, soos klavier speel, nie meer kan uitleef nie, want hulle vingers wil nie meer saamwerk nie.
Die uitdagings wat ouer persone in ons samelewing ervaar, gaan dikwels verder as net fisieke gesondheid. Baie mense neem aan dat die ouer word ‘n natuurlike agteruitgang in kognitiewe vermoëns beteken. Maar wanneer laas het jy regtig daaroor gedink hoe dit voel om iets basies te vergeet, iets soos om jou eie naam te skryf?
Vir baie seniors is dit nie net ‘n kwessie van fisieke gesondheid nie, maar ook ‘n geestelike en kognitiewe verandering wat hulle beleef. Take wat hulle eens met gemak uitgevoer het – soos om hul eie naam te skryf of alledaagse werkies te doen – word al hoe moeiliker. Die verlies van basiese vaardighede kan ‘n diepgaande emosionele impak op ouer persone hê. Dit kan gevoelens van frustrasie, hulpeloosheid en selfs ‘n verlies aan selfvertroue veroorsaak. Vir hul geliefdes is dit ook ‘n aangrypende ervaring om ‘n geliefde te sien sukkel met dinge wat eens tweede natuur was.
Maar daar is hoop. Met betrokkenheid en empatie kan ons ‘n verskil maak in die lewens van ouer mense. Om ‘n hand te reik, ‘n oor te leen vir ‘n verhaal, of eenvoudig net daar te wees – dit is dinge wat ‘n verskil kan maak vir diegene wat gereeld stil teen eensaamheid veg.
Mag ons bewus wees van die uitdagings wat ons bejaarde gemeenskapslede in die gesig staar en mag ons bereid wees om hulle liefdevol en respekvol te ondersteun. Elke klein gebaar van omgee maak ‘n groot verskil. Laat ons saamwerk om ‘n samelewing te bou waar elke lid, jonk en oud, ‘n waardige, gerespekteerde plek het.
Raak vandag nog betrokke in jou gemeenskap. Kontak my gerus by chantell@helpendehand.co.za of besoek www.vrystaathand.co.za vir meer inligting oor hoe jy betrokke kan raak.